ATKV-Redenaars

Redenaars is waar individuele deelnemers die gehoor van hul standpunt oorreed. Vanjaar het die redenaars in beide die onvoorbereide en die voorbereide kategorie deelgeneem.  Die kompetisie bestaan uit 3 rondtes:  streeks-, provinsiale en nasionale rondte.Skole word in die Bloemfontein rondte beperk om slegs vir elke vyf onvoorbereide redenaars een voorbereide redenaar in te skryf.

2 Juniors en 1 senior het na die provinsiale rondte deurgedring. Een leerder het ‘n derde plek in die provinsiale rondte behaal.

ATKV-Debat

Hierdie is ‘n spankompetisie waar elke span vir ongeveer een uur  teen ‘n span van ‘n ander skool debatteer.

In die eerste rondte van die ATKV-debatkompetisie neem vier junior- en vier seniorspanne deel en twee seniorspanne  dring deur na die Vrystaatrondte.  Een span eindig tweede in die Vrystaat en verteenwoordig die Vrystaat gedurende Augustus by die Nasionale rondte.

 Volksblad Dink-of-Sinkkompetisie

Vanjaar het twee spanne aan die jaarlikse Dink-of-Sink-debat deelgeneem.

ATKV-Jeugtak (Taalindoenas)

Die ATKV-Jeugtak se oogmerk is om Afrikaans deur middel van verskeie aksies te bevorder. JF se tak ondersteun leerders wat aan Debat-, Skryf- en Spelkompetisies deelneem. Die Voorsitter van JF se Taalindoenas woon jaarliks die ATKV se nasionale kongres by en van die lede lewer ook ‘n bydrae by die Vryfees. Vanjaar ondersteun die tak VivA Afrikaans se Varsgebek Sêgoed en Kykgoed-kompetisie.

Voortrekkers

Die Voortrekkers se tema is “Voortrekkers Trap Nuwe Spore”. Daar was vanjaar 74 jeug- en 28 volwasse lede. Dit was dus die vierde agtereenvolgende jaar dat JF die grootste hoërskolegroep in die Vrystaat en tweede grootste groep in die land was.

Die jaarlikse Vlotkamp het vanjaar ʼn nuwe tuiste langs die Vaalrivier by Bodemvas gekry.  Dit was die grootste Vlotkamp in 10 jaar. Die potjiekoskompetisie tydens die kamp is deur die Kwagga Dogters se B-span gewen. Met die Vrystaat se Jeugleiersverkiesing is 2 van ons dogters as Vrystaat Jeugleiers verkies.  Kentekens wat afgehandel is, is Waterredding en Touwerk.  Gedurende die Maartvakansie het jeug- en volwasse lede na die jaarlikse gebiedskamp te Doornkloof vertrek.

Die tweede kwartaal het afgeskop met die PV Teoretiese vraestel.  Elf Graad 12-Jeuglede is ingeskryf.   Al 11 slaag en word na die Presidentsverkenningskamp genooi  en word met die hoogste toekenning bekroon.  Kentekens wat ook in die tweede kwartaal afgehandel word, was  Vuurwapens en Vliegkuns.

Die derde kwartaal begin met ons jaarlikse Proe-aand.  Ons open die Rafelfees met ʼn Kunsuitstaling deur JF-leerders.  Elf Verkenners, ouers en volwasse lede vertrek na Doornkloof vir die Presidentsverkennersoorhandigingsfunksie.

Jeug- en volwasse lede woon ‘n Jeugberaad te Doornkloof by. Die hoogtepunt vir die jaar is die Voortrekkers se 85ste verjaarsdagvieringe by die Vrouemonument waar 492 jeuglede en 6 volwasse lede deel van die openingseremonie was.

Kentekens wat hierdie kwartaal aangebied is: Selfverdediging en Seremonies. ’n Familiekamp gaan vir die eerste keer by Aldam aangebied word.

Skryfprestasies

Poort-publikasie: drie leerders publiseer vanjaar in Poort.
Afrikaans Internasionale Ekspo:  nege goue sertifikate en 10 silwer sertifikate is verwerf.

JF lewer ’n wenner op in die gr. 12-kategorie vir poësie.

In die Thompson-Afrifiksie Fantasie- en Wetenskapfiksie Skryfkompetisie is een van JF se leerders as algehele wenner aangewys.

Die WOW-spelkompetisie (Woorde Open Wêrelde) is ‘n inisiatief van die Universiteit Stellenbosch. Die doel is om leerders aan te moedig om speel-speel te leer spel. Leerders van gr. 1-10 mag aan hierdie kompetisie deelneem. JF-leerders neem elke jaar entoesiasties deel. Vanjaar het vier JF-leerders na die provinsiale rondte deurgedring, maar ongelukkig uitgeval.

Skoolkoerant (Oester)

Onder leiding van ‘n hoof- en subredakteur het die redaksie drie koerante uitgegee waarvan twee gedruk is en die ander een, bekend as die Stroper, as ‘n e-weergawe bekendgestel is. ‘n Groter hoofredaksiespan is ook gekies wat ‘n kreatiewe, puik bydrae gelewer het. Daar was nie vanjaar ‘n  Nasionale Skoolkoerant-kompetisie waarvoor ons die Oester kon inskryf nie.

JF-Kunste Akademie

Dit is al reeds die derde jaar wat die Kunste-Akademie in volle swang is en steeds gaan ons van krag tot krag. Vanjaar is daar 71 leerders wat deel is van die akademie. Ons was ook bevoorreg dat me. Ilse Nel haar sangskool, Sirius, na die kunste-akademie geskuif het, so ook het me. Santie van Biljon haar dansskool Creative Dance Academy, hier gevestig. Die danslokaal is toegerus met ‘n dansvloer en is opgeknap.  Ons het dié jaar twee kultuuraande aangebied.

Bellissima

Bellissima het die geleentheid gehad om op verskeie plekke en geleenthede op te tree.  Hulle bied ’n jaarkonsert aan.  Bellissima is ‘n groot uitvoerproduk van JF-hoërskool.

Voci Potenti

Voci Potenti, ’n seunsgroep, het groot verbetering getoon. Ons getalle het toegeneem en daar is baie belangstelling.  Hulle het ook by ’n hele paar geleenthede opgetree.

Matrikulant van die Jaar – JF doen dit weer…

Die Hoërskool Jim Fouché het voorwaar ‘n trotse rekord in hierdie kompetisie van die Volksblad en Universiteit van die Vrystaat.   Amilda Hugo (1987) en Anchen Laubscher (1998) is JF se eerste twee wenners van dié gesogte kompetisie.

In 2012 was Christelle Cilliers (Hoofdogter) en Paul Bester deel van die top 14-groep. Paul word aangewys as die matrikulant met die beste individuele prestasie. 2013 was ‘n besondere jaar. Nie net word Rachelle–Mari Voges aangewys as die Vonkelpersoonlikheid nie, maar Jannie de Wet (Hoofseun) stap weg met die titel as Matrikulant van die jaar 2013.

Janke Kotzé, hoofdogter van 2014, volg in sy voetspore en maak geskiedenis deur deel te wees van die eerste skool wat twee jaar na mekaar met die louere wegstap. Wat hierdie prestasie so besonders maak, is dat sy ook deur die ander deelnemers aangewys word as die Vonkelpersoonlikheid.

In 2015 leef die tradisie voort aangesien Benita van der Merwe (’n semifinalis) en Jemima Meyer (Finalis) weereens JF se naam hoog hou. Jemima word by die finale beoordeling as die matrikulant met die beste Kultuurprestasie aangewys.

In 2016 word Laenita Laubscher (onderhoofdogter) en Armand Smit (hoofseun) as top 14-finaliste aangewys. Tydens ‘n glansgeleentheid op Saterdag, 1 Oktober 2016, word Armand Smit as die Matrikulant van die Jaar aangewys. Hy kry ook die erkenning vir die matrikulant met die beste Kultuurprestasie. Met sy aanwysing as wenner bereik JF ongeëwenaarde hoogtes deur die derde wenner in vier jaar op te lewer en die vyfde wenner sedert die kompetisie se ontstaan.

Hiermee word die slagspreuk wat in die Volksblad advertensie gebruik is, verder onderstreep:   “JF, waar ons leerders saai en leiers oes.“

Bemarking

Die doel van bemarking by die Hoërskool Jim Fouché is om ‘n positiewe en ’n sigbare beeld van die skool uit te bou. Met hierdie doelwit word daar op verskeie terreine bemark. Dit het ingesluit advertensies in plaaslike koerante, in laerskole se nuusbriewe en koerante, op JF se webtuiste naamlik www.jf.co.za  en JF se skoolkommunikeerder . Die koshuis is vir ‘n vierde keer in die platteland bemark en JF se eie amptelike “Facebook”-bladsy: “JF-amptelik, toeka tot nou”,  het reeds ongeveer 1600 “likes” gehad. Vir die eerste keer is daar ook op groot skaal van e-posse gebruik gemaak om die weekbriewe by ons ouers te kry. Baie dankie ook aan die media, wat by verskeie geleenthede aan JF blootstellinggegee het, deur die plasing van foto’s en prestasies.

Daar is by meer as een geleentheid gesê dat gelukkige en positiewe leerders, ouers en personeel egter ons belangrikste bemarkingsinstrument is. Dus, baie dankie aan elkeen wat op hierdie wyse ons pragtige skool hierdie jaar bemark het.

Tydens ‘n strategiese beplanningsessie in Augustus 2016  is daar volledig beplan vir die volgende drie jaar met alle toepaslike doelwitte deeglik uitgestip. Mev. Liana Schoeman wat die dupliseerkamer beman, is ook aangestel om JF op sosiale media en die internet meer sigbaar te maak.  Ons kan u, as ouers en skoolgemeenskap, verseker dat ons op die regte pad is.

Op 11 Maart 2016 het ongeveer 600 graad 7-leerders van ses verskillende laerskole ons skool besoek. Daar het hul ‘n voorsmaak gekry van waaroor die hoërskool regtig gaan. Dit is op 25 April 2016 opgevolg met ‘n inligtingsaand vir alle voornemende graad 8-ouers.  Tydens hierdie geleentheid het amper 300 mense die inligtingsessie bygewoon, waarna al die gaste ’n informele onthaal in JF se pragtige Multisentrum bygewoon het asook na ‘n sportuitstalling in ons moderne en goed toegeruste oefensentrum kon gaan kyk.

Na vyf jaar se harde werk, baie inisiatief en talle prestasies het 230 graad 8-leerders hul reeds vir 2017 ingeskryf.

Ander geleenthede waar JF ook die oog gevang het, was by die Interhoërgala, waar ons die vyfde agtereenvolgende jaar die Geesbeker gewen het. Ongeveer 500 leerders het daardie byeenkoms bygewoon. So was die skool se verjaarsdag en die gepaardgaande “Classic Clashes” teen Sentraal iets om te aanskou. ‘n Webwerf om dop te hou, is “www.Schools that Rock.co.za.“

Jim Fouché was ook op die voorgrond met die aanbieding van ekstra klasse by nie-presterende skole. In die voorbereidende eksamen van September 2016 het JF uitgereik na Bloemfontein South High School in Genl. De Wet, Koffiefontein, Academy of Excellence en Qibing in Wepener. Ekstra klasse in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe is aangebied .