Jim Fouché Sportinstituut

JF se oefensentrum is in sy negende bestaansjaar.  Ons beskik oor ’n fisioterapeut wat ’n spreekkamer bedryf.  ‘n Nuwe voltydse Sportwetenskaplike is aangestel.  Kondisioneringsafrigters van die Universiteit van die Vrystaat help om toe te sien dat die leerders hul oefenprogramme korrek volg.

Die video-analiselokaal is ten volle toegerus sondat video-ontledings kan plaasvind.

Verskeie nuwe toerusting is gedurende die jaar aangekoop.  Leerders het die jaar die oefensentrum ten volle benut.  Ons beoog om spelers in die “afseisoen” self te evalueer en in die nuwe seisoen op te volg.

Die invloed van die oefensentrum ten opsigte van die uitslae van ons atlete en sportspanne kan duidelik waargeneem word.

Atletiek

  • Op die Sonebyeenkoms is 57 plekke (1ste – 3de) behaal, waarvan 31 eerste plekke was.
  • Tien atlete is in Vrystaatspanne opgeneem. Vier goue medaljes, vier silwer medaljes en ses brons medaljes word verwerf.

 Hokkie

Dis die eerste jaar dat ons, vir ‘n hele seisoen, die astro ten volle kon benut.  Behalwe vir afrigting en wedstryde, is die astro ook vir ‘n 7’s-toernooi aangewend. Vanjaar het ons vyftien (teenoor elf in 2013 en dertien in 2015) spanne vir die liga ingeskryf. Ons spanne het met groot sukses aan die volgende inters, nl. Voortrekker, Witteberg en Sentraal deelgeneem. 23 seun- en 15 dogterspelers is vir die SVS-spanne gekies wat aan verskeie toernooie landswyd gedurende die Junie-vakansie deelgeneem het.

Drie spanne het onder die eerste drie plekke in die hokkieliga geëindig, nl. seuns o/14B (eerste), seuns o/14A (tweede) en dogters o/14A (derde).

Skaak

Die 0/17 B-skaakspan eindig vanjaar tweede in die skoleliga.  Twee van JF se skaakspelers word in die Vrystaatskaakspan opgeneem en neem aan die einde van die jaar aan die SA-skaakkampioenskap deel.

Potspel

Een leerder word ingesluit in die provinsiale A-span, een leerder in die provinsiale B-span en twee leerders in die provinsiale C-span.  Een dogter en een seun word in nasionale spanne ingesluit. Een speler behaal ’n tweede plek en een speler behaal ‘n derde plek in die 9-bal SA-Junior Kampioenskap.

Tennis

Drie spanne is in die liga ingeskryf, bestaande uit een dogter- en twee seunspanne.

Landloop

Vyf leerders is ingesluit in die Vrystaatspan wat aan die SA-Kampioenskap in George deelgeneem het.

Biathle

Een leerder is ingesluit in die Vrystaatspan wat aan die SA-Kampioenskap in Bela Bela deelgeneem het.

Tweekamp (Hardloop, Swem)

Twee leerders word ingesluit in die Suid-Vrystaatspan na die SA-Kampioenskap in Bloemfontein.

Driekamp

Een leerder is ingesluit in die Vrystaatspan wat aan die SA-Kampioenskap in Bloemfontein deelgeneem het.

Pluimbal

Vyf leerders word vir die Vrystaat O/17A-span gekies en drie vir die O/17B-span.
Een leerder word vir die O/19A-span gekies en drie vir die O/19B-span.
Een leerder verteenwoordig Suid-Afrika in Mauritius en Morocco.
Een leerder behaal ‘n derde plek tydens die o/19-SA’s.
Die dogters A-span wen die Bloemfonteinliga en behaal ’n algehele eerste plek op die Suid-Afrikaanse Skole Kampioenskap.

Die seuns A-span behaal ’n derde plek tydens die SA’s.

Trompoppies

JF se trompoppies is vanjaar as wenners van die Vrystaatliga, aangebied deur FSMCA, aangewys.

Hiermee het hulle ook gekwalifiseer vir die Elite Liga tydens SAMCA se Nasionale Kompetisie.  Die “Throwing prop”-groep het ‘n agtste plek en JFDK ‘n algehele twaalfde plek in Suid-Afrika behaal. Dertien van ons trompoppies is in die Vrystaatspan opgeneem wat teen die ander provinsiale spanne deelgeneem het en ‘n vierde plek behaal het.

Netbal

Dertien netbalspanne neem vanjaar aan die liga deel, waarvan tien spanne die semifinale rondtes bereik.  Die o/14C- en D-spanne haal die finaal.  Verskeie wedstryde is tydens interskole byeenkomste gespeel. Die Eerstespan het aan die einde van April aan die K2-toernooi in Oudtshoorn deelgeneem.

Vyf dogters en twee van ons afrigters slaag die vlak 1-skeidsregtereksamen. Drie van ons afrigters tree as keurders tydens die Motheoproewe op. Gedurende die Motheoproewe dring agt speelsters deur na die finale proefrondtes in Bloemfontein. Gedurende die Julievakansie verteenwoordig agt spelers die Vrystaat by die SA-Skole toernooi.

Me. Marianna Wessels tree as hoofkeurder by die o/17 Vrystaatproewe op. Me. Tanya Veldtman tree as skeidsregter op tydens die o/17- en o/19-SA senior toernooi in Kaapstad en hier verwerf sy as skeidsregter ‘n NSA-gradering.

Krieket

Daar het drie o/15- en drie o/19-spanne aan die onderskeie ligas deelgeneem.  Drie leerders word in die Suid-Vrystaat o/15 krieketspanne en drie leerders in die o/19 Suid-Vrystaatspanne opgeneem. Die eerste span onderneem ’n toer na Punt Hoërskool se krieketfees in Mosselbaai en tree ook as wenners uit die stryd by Sentraal Hoërskool se jaarlikse T20-toernooi.

Swem

Vyftien leerders het Jim Fouché by die Vrystaat Interhoërbyeenkoms verteenwoordig.  Verskeie leerders het in finale rondtes deelgeneem.

Rugby

Die 2016-seisoen het gedurende Februarie met ons eie 7’s-toernooi afgeskop.

JF-rugby was vanjaar tydens die Aprilvakansie weer bevoorreg om al ons ouderdomsgroepe op toer te neem.  Vyf spanne het die Glenwood Rugbyfees in Durban bygewoon.  Van Suid-Afrika se top rugbyskole woon hierdie toernooi by.  Hierdie rugbyweek dien as puik voorbereiding vir die rugbyseisoen.  Ons eerstespan het ook aan‘n K2-topskole toernooi in Oudtshoorn deelgeneem.

Sewentien spelers is vanjaar in verteenwoordigende Vrystaatspanne ingesluit.  Dertien in die 0/19- en vier in 0/16-spanne.  JF spog ook met twee seuns wat in die Vrystaat se 7’s Cravenweekspan ingesluit is.

Die o/15 A-rugbyspan het gelykop teen Sentraal (12-12) in die eindstryd van die Vrystaat Hoërskole se A1-liga gespeel.  Daardeur het die span die 2016-liga onoorwonne afgesluit. Verder het ons spanne ook almal gedurende die jaar aan vriendskaplike wedstryde teen Marlow, Duineveld, Voortrekker en Witteberg deelgeneem.

Buiteskoolse sport

Graag wens ons leerders wat in buiteskoolse sportsoorte presteer het, hartlik geluk.  Daar word op ‘n deurlopende basis erkenning aan leerders gegee vir hul prestasies en dit is JF se beleid om aan provinsiale verteenwoordigers erekleure toe te ken.